|
GeletterdheidsbevorderingIn samewerking met Smart BrainsAanbieder: Yolandé Scholtz So dikwels vind ons dat die leerders en volwassenes wat by ons projekte inskakel, sukkel om te lees en daarom moeilik leer. Juis hierom bied ons vanaf 2012 ’n geletterdheidskursus aan. Enige individu wat reeds deel is van ons programme, kan gratis van die bekwame dienste van ons fasiliteerder gebruik maak om hulle leesvaardighede te verbeter. |
SkryfskoolAanbieder: Diana Ferrus Diana Ferrus, wat reeds verskeie skryfwerk gepubliseer het en onder meer bekend is vir haar rol om Saartjie Baartman se oorskot na Suid-Afrika terug te bring, bied vanjaar vir die eerste keer skryfklasse aan vir sowel jongmense as volwassenes uit benadeelde gemeenskappe. |
StoriematIn samewerking met die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) Die Breytenbach Sentrum bied vanaf 2011 leesbevorderingsklasse aan die leerders wat betrokke is by ons Kunstige kinders-projek (sien onder visuele kunsprojekte). Hierdie groep jong lesers kom weekliks bymekaar op die helderkleurige storiemat, wat deur die naaldwerkvroue gemaak is, om nuwe Afrikaanse stories te ontdek. Hulle lees nuwe Afrikaanse boeke en deur die verhaalgebeure te teken, die stories verder te verbeel, om die boeke mooi op te pas en die prente daarin te waardeer, word ’n liefde vir lees bevorder. In samewerking met die SBA brei ons hierdie projek in 2012 uit om sodoende ook die storiemat in mense se huise, kerksale en biblioteke te gaan oopvou. |
Voorgeskrewe werk kry nuwe omslagIn samewerking met die Woorde-open-Wêrelde-projek (WOW) Vir baie jongmense is voorgeskrewe werk so opwindend soos opgekookte koolblare. Saam met die US Woordfees se bemagtigingsprojek, die WOW, wil ons hierdie persepsie help verander deur die voorgeskrewe werk op ’n opwindende en kraakvars-manier aan Graad 8-leerders uit verskeie skole regoor die Wes-Kaap te behandel. Dit is dikwels in skole in armer gemeenskappe waar oorvol klasse, oormoeg onderwysers en gebrekkige infrastruktuur daartoe lei dat Afrikaanse voorgeskrewe werk op ’n onentoesiastiese wyse behandel word. Ons wil graag met hierdie projek hulp verleen aan die Afrikaanse onderwysers en op-en-wakker kundiges betrek om die werke op ’n heel nuwe manier te bespreek. Verder wil ons ’n kort drama op die been bring wat dan na die verskillende skole kan toer en wat gegrond is op die voorgeskrewe werke. Hierdeur wil ons nie net die Afrikaanse voorgeskrewe werke verhelderend aanbied nie, maar ook ’n liefde vir die Afrikaanse literatuur kweek. |
Jazz musiekgroepAangebied deur die KunsteKaap Die bekende musikant, Ian Smith, het reeds in 2011 begin om jong musiektalent in Wellington te werf om ’n jazz musiekgroep op die been te bring wat by die KunsteKaap en die Breytenbach Sentrum en elders sal optree. Oudisies is verlede jaar in November by die Breytenbach Sentrum gedoen en die plaaslike klopse-groepe se jeuglede is genader om hulle slag met musiekinstrumente te kom wys. Uit hierdie jong musikante is reeds lede gekies vir ons musiekgroep en oudisies sal binnekort gehou word om jong sangers te kies. |
||
KlavieropleidingIn samewerking met College of Arts @ Huguenot, Wellington. Aanbieder: Winand Grundling Ons beoog vanjaar om vir die eerste keer klassieke klavieropleiding aan te bied vir opkomende pianiste uit benadeelde gemeenskappe. Die leerders sal nie net by die sentrum opleiding ontvang nie, maar sal ook hier kan oefen en gestimuleer word deur op uitstappies te gaan om klavier-uitvoerings by te woon |
|
Musiekinstrument-opleidingIn samewerking met Making-more-music (musiekskool) Aanbieder: Morné Meyer Die Drakenstein Munisipaliteit het twee jaar gelede verskeie musiekinstrumente aan die Breytenbach Sentrum geskenk, met die doel om jongmense met musiektalent gratis op te lei. Ons bied daarom beurse aan kinders wie se ouers nie vir hul musieklesse kan betaal nie en smiddae bewe die Breytenbach Sentrum se dak behoorlik met die opkomende trom-, kitaar- en klawerbord-spelers. |
Leliebloem-projekIn samewerking met die Music Therapy Community Clinic (MTCC) Aanbieder: Therese Hulme Die Breytenbach Sentrum sprei vanjaar haar vlerke om vir die eerste keer betrokke te raak by ’n musiek-en-woordkunsprojek op die Kaapse Vlakte. Therese Hulme, wat voorheen die Piemp-gedigteprojek in opdrag van die sentrum by Bergrivier Sekondêre skool aangebied het, is vanjaar met hierdie projek betrokke by Leliebloem – ’n sentrum vir hawelose tienermeisies. Hierdie groep jongmense sal deur musiek en Afrikaanse liriekskrywing uiting gee aan hulle emosies; geleer word om hulle vrese en frustrasies te kan kanaliseer en om hulle omstandighede op ’n kreatiewe manier opnuut te bekyk en dan neer te pen. |
||
Dramaklasse vir jongmenseIn samewerking met Break-a-Leg Dramaskool Aanbieder: Sophia Passerini Die dramaklasse word reeds geruime tyd by die Breytenbach Sentrum aangebied en jaarliks borg ons die inskrywingsgelde van ’n aantal leerders wat talent het, maar uit skole kom waar hulle nie blootgestel word aan die teater nie en wie se ouers nie vir die klasgelde kan betaal nie. Ons studente bring elke jaar goue en silwer sertifikate terug van die Eistedfodds en dit is vir ons ’n groot vreugde om aan die einde van die jaar, tydens die Karnaval van die kunste, ’n produksie op die planke te bring waarin hulle hul buiging as akteurs maak. In 2012 maak ons weer so en verwelkom ons nuwe leerders by ons dramaklasse. Ons brei ook uit deurdat ons ’n danskomponent deelmaak van die drama-leerplan. Verder word die jongspan gereeld op uitstappies geneem om teaterpoduksies in onder meer die KunsteKaap, die Baxter-teater en elders te gaan beleef. |
Dramaklasse vir volwassenesIn samewerking met Beenaf-produksies Aanbieder: Sophia Passerini Die eerste vroue-dramagroep wat verlede jaar op die been gebring is, het baie goeie terugvoer ontvang op hulle debuutproduksie, Wat die hart van vol is. Hierdie produksie – wat in die Paarl en in Die Bôrdienghuis Teater ’n draai gemaak het – het vir vroue wat nog nooit die verhoog betree het nie, blootstelling gegun. Vanjaar bied ons weer dramaklasse aan vir aspirant-akteurs wat glo hulle het ‘iets’, maar nie weet hoe om hulle talente te ontsluit nie. Ons beplan egter om hierdie projek aan te vul deurdat die deelnemers in werkswinkel-formaat betrokke sal wees by die skep van ’n nuwe teaterstuk wat ons teen die einde van die jaar na verskeie plase sal neem. Hierdie produksie sal relevante temas aanraak, waarmee baie van ons plaaslike gemeenskappe mee worstel. Sodoende wil ons ’n produksie skep wat nie net vermaak nie, maar ook mense anders kan laat kyk na hul eie lewens. |
Crafty KidsAanbieder: Anthea Bailey Die Breytenbach Sentrum bied jaarliks kreatiewe kunsklasse aan vir agt- tot twaalfjariges uit armkansige huise en veral kinders wat weens VIGS hulle ouers verloor het. Die doel van hierdie weeklikse klasse is om die kinders se denk- en kreatiewe vaardighede te slyp deur hulle te leer om met verskeie materiale (bv. klei, verf, potlood en afvalmateriaal) te werk en verskillende produkte te kan maak. Die kinders leer deur te speel en word verder gestimuleer deurdat ons hulle op uitstappies neem na die plaaslike DBV waar hulle troeteldiere versorg. Die kinders is verder deel van ons Storiematprojek. |
Kuns-uit-niksAanbieder: Tessa Louw Hierdie projek wil die belang van natuurbewaring en ’n liefde vir die kunste bymekaar uitbring onder ons jeug. Verskeie plaaslike laerskole word hierby betrek en kinders word geleer om die strate waarin hulle woon, rommelvry te hou. Maar hier stop dit nie: die leerders tel die rommel op en sorteer dit by die skool volgens plastiek, glas en papier. Uit elkeen van hierdie mediums word die kinders geleer dat daar opwindende speelgoed en geskenke uit weggooigoed te maak is! Wagenmakers-skool en laerskole in Mbekweni sal vanjaar betrek word. |
Kreatiewe handwerkAanbieder: Annalene Smith Van handsakke, juweliersware tot speelgoed uit velt – dit is wat die individue in hierdie kursus geleer word. Vanjaar bied ons hierdie projek aan vir bejaardes in die Kroneberg-ouetehuis in Wellington. |
Mbekweni-kunsprojekAanbieder: Thembi Leerders van onder ander Laerskool Desmond Tutu in Mbekweni word vanjaar deel van hierdie kunsprojek. Die leerders sal drukwerk op lap leer doen en later vanjaar die Lukhanyo Kultuursentrum in Mbekweni se mure versier. |
Naaldwerkers begin eie besigheid’n Groep naaldwerkvroue wat verlede jaar by Marguerite Scheepers leer naaldwerk doen het, begin vanjaar met hulle eie besigheid onder die Breytenbach Sentrum se dak. Hierdie vroue sal begin deur geskenkesakke te maak vir die Karnaval van die kunste en later ook vir die groot geskenke-gebeurtenis, Kamersvol Geskenke. |
Skilder- en tekenklasseAanbieder: Tessa Louw Almal kan teken, is die leuse in ons kunsskool, Die Kreasie Stasie. Oud en jonk word hier geleer om op ’n ontdekkingstog te gaan en met potlood, houtskool, akriel, waterverf en olie te kan teken en skilder. Die Breytenbach Sentrum bied beurse aan talentvolle kunstenaars wat nie vir hul eie kursusfooie kan betaal nie. Hierdie kursus ontsluit nie net talente nie, maar bied ’n kreatiewe uitlaatklep vir individue uit kwesbare gemeenskappe. |
EntrepreneurskapAanbieder: Len Rhoda Hoe stel jy jou CV op? Hoe verkoop ’n mens jouself aan ’n werkgewer en waar begin jy om ’n besigheidsplan op te stel? |
|
|
LewensvaardigheidAanbieder: Charmaine Rhoda Ervaring het ons geleer dat baie van die individue wat inskakel by ons projekte met lae selfbeelde sukkel en uit moeilike huislike omstandighede kom. Hierdie kursus is ’n verpligtende komponent van al ons projekte en spreek kwessies aan waarmee so baie mense mee worstel. Sodoende wil ons, ons kursusgangers voorberei om die lewe vol in die oë te kyk en opnuut oplossings vir hulle probleme te kan vind. |
RekenaarkursusAanbieder: Kosie Opperman Ons rekenaarlokaal, die breytenEsentrum, is ’n baie gewilde besoekpunt vir veral skoolverlaters wat uit skole kom waar rekenaars nie beskikbaar is nie. Hierdie jong individue, wat nie naskoolse opleiding kan bekostig nie, skakel in by ons omvattende rekenaarkursus om sodoende hulself te kan bemagtig en te bou aan ’n beter CV. Hierdie kursus is vanjaar weereens propvol en ook met rede so – die studente van 2011 het bykans almal reeds werke! |
|



