Herinneringsbrief deur Rachel Breytenbach
Ek het gebly in ’n baie groot ou huis – ’n boardinghuis. Ons deel was reg in die middel. Die voordeur was altyd oop, nooit gesluit nie. Met die houtgang tot binne in die eetsaal. En links daarvan na agter was die kombuis en die spens – die hart van die huis. My kamer was langsaan Ounooi en Oubaas s’n. Buite het die paddas gekwaak en die sterre geskyn. Na aandete en huisgodsdiens en die nuus en die verhaal, Soetmelksvlei, op die radio, was die nag myne. Soms het ek gaan stap na Kerkstraat en gaan windowshop. Die winkels was vir my altyd soveel mooier in die nag as in die dag. Selfs in die donkerste nag was ’n mens bewus van die pragtige berge daar buite. Groenberg, Sneeukop. Hulle beskerm die dorp. Die gelag en gepraat van die bruin Afrikaners wat heen en weer verby ons huis geloop het dorp toe. Ek was so vry. Eers nou besef ek hou vry ek grootgeword het. So totaal onafhanklik en ewig omring deur die liefde van my ma en my pa en diere – altyd diere.
Liewe ou Wagter, kruis tussen ’n skaaphond en ’n collie. Daar was hoenders agter, goudvisse in die gang. Budgies en vinkies voor op die stoep. Katte. Vir ’n rukkie totdat hulle my kleinboet se duiwe gevang het! En selfs vir ’n rukkie twee poue. Omdat hulle geskreeu en die bure gepla het, moes hulle toe gaan. Daar was ook altyd mense – die ‘boarders’. Daar was oom Vasie – hy was ’n oujongkêrel en het vir my die mooiste presente gegee. Van ’n looppop ‘walkie-talkie’ tot ’n horlosie en ’n pophuis. Mrs Rivers het agter in ’n woonstel gebly en het hoede gemaak. Die vyeboom, veral in die winter, was altyd oortrek van die hoede wat sy besig was om te maak en daar gehang het om droog te word. Ek was ook haar model. Dan die jong moeder met die tweeling dogtertjies wat altyd soet gaan slaap het as sy saans in die bioskoop gaan kaartjies verkoop het. Sy het altyd vir hulle twee boksies Smarties teruggebring.
Vir ’n ruk lank was daar ook mevrou Schoeman en haar jong seun. Sy het na haar man se dood besluit om te kom studeer aan die kollege en haarself as onderwyseres gekwalifiseer. Die seun was maar dommerig en sy het hom leer lees en spel – elke aand oor en oor. ’n Ou dame het gebly in die woonstel links van ons en het altyd vir my gesê ’n dogtertjie mag nie broeke dra nie! Die woonstel aan die regterkant was miss Visser s’n. Sy was ’n oujongnooi en baie puntenerig. Jare daarna toe ek getrou het en met my man in die kamer bokant haar kop beland het tydens ons honeymoon, het sy verwoed van onder af met ’n besemstok teen die plafon geslaan om ons stil te maak!
Die beste was mrs. Knox wat ook agter gebly het in ’n woonstel by die akkerboom. Sy het daar gebly met haar twee katte, Wooley en Peanuts. Sy en haar man het van Nieu-Seeland na Suid-Afrika gekom. Sy was ’n kunstenaar. Hulle was uitmekaar; hy het gebly in die Railway Hotel en sy by ons. Sy het ook aan die Black Sash behoort. Toe ek reeds ’n tiener was en my kamer agter was (wat eens die eetkamer was), het sy my laat in die aand genooi vir ’n bietjie sjerrie! Omdat dit so warm was, het ons laat gaan slaap.
Só was Wellington en ons boardinghuis – mense het altyd gekom en gegaan. Ek was nooit alleen nie. Dit was ’n huis van liefde. Dit was ’n tyd van lekker kos. Baie, baie vrugte – druiwe, appelkose, pruime en perskes by die dosyne. Dink net – die boer het tydens Februarie twee mandjies (wit en rooi) druiwe by die voordeur kom aflewer. Die Maleier het verbygekom met sy lorretjie groente twee keer per week. Daar was Fonteinstraat met die kafee (tant Sannie s’n) op die hoek. Die viswinkel en die slagter. Boonop het ons, ons eie groentetuin gehad met tamaties en aartappels en bone. En ’n heerlike sementdam agter waar ons kinders na hartelus kon swem. Wellington was ’n ware paradys om in groot te word, veral die losieshuis; groot en omring deur blomme, vrugte, groente, diere, kinders, mense en liefde. ![]()
