Hans (Oubaas) en Kitty (Ounooi) Breytenbach het vyf kinders: Jan, Cloete, Breyten, Sebastiaan en die enigste dogter, Rachel. In 1953, toe die Breytenbach-familie na Grivelleas verhuis, was dit slegs die jongste drie kinders -Breyten (13), Sebastiaan (12) en Rachel (5) – wat saam met hulle ouers in die losieshuis gewoon het. Cloete en Jan het gereeld kom kuier.
Die Breytenbach Sentrum lyk vandag min of meer nog net soos die dae toe die Breytenbachs hier gewoon het. Die buitegeboue was toe slaapkamers vir die huiswerkers en waar die boekwinkel - The Booktraders - vandag is, was in die vyftigerjare benut as musiekkamers vir die Onderwyskollege. Breyten en Sebastiaan se slaapkamers was in die gebou agter die Breytenbach Sentrum. Hierdie tweede gebou was deel van die losieshuis. In 1959 is die motorhuise aangebou en die agterste gebou is later as woonstelle ingerig. Nadat die huis aan die munisipaliteit verkoop is, verhuis Hans en Kitty Breytenbach na Onrus waar Kitty (in 1978) en Hans (in 1989) oorlede is.
