Huis van vele base

Afdruk PDF

breytenbach_34Die Breytenbach Sentrum, wat rofweg 150 jaar gelede gebou is, was die woning van vele eienaars. Dit was eers die Commercial Hotel voordat dit in die laat 1890’s verkoop is as studentehuis. In die vroeë veertigerjare was die huis die basis vir die Wellingtonse Voortrekkerkommando, voordat Hans en Kitty Breytenbach (eers van Riversdal) Grevilleas in 1953 as losieshuis gekoop het. In 1974 verkoop die Breytenbachs die huis aan die Wellingtonse munisipaliteit, wat dit benut as daghospitaal.


Op 23 Februarie 1998 is die eerste kontak met Breyten Breytenbach gemaak om uit te vind of hy en sy familie daarvoor te vinde sal wees as hulle voormalige ouerhuis as kultuursentrum gevestig word. Op 10 Maart 1998 reageer Breyten positief deur te sê dat hy en sy familie so ’n projek heelhartig sal steun. Eugenie Wiggins, Johan Conradie en Manie en Winnie Rust was die inisieerders en dryfkragte agter die idee van ’n kultuursentrum. Na vele onderhandelinge met die munisipaliteit is die huis aan die Breytenbach Sentrum se Raad van Trustees oorgedra. Die huis was op daardie stadium in ’n vervalle toestand en dit was ’n lang proses om die nodige fondse te bekom om die huis te restoureer. Op 23 Februarie 2005 skenk die Nasionale Lotery (Lotto) voldoende fondse om die restourasie-proses moontlik te maak. Twee jaar later, op 26 Februarie 2007, is die Breytenbach Sentrum – met sy klassieke argitektuur en unieke, ouwêreldse sjarme - geopen. Met die grootse finansiële hulp van dr. Johann Rupert en mnr. Ton Vosloo, is die Breytenbach Sentrum in staat gestel om in 2008 volstoom weg te spring met vele bemagtigingsprojekte.

 

My vader het ’n groot bôrdinghuis

Afdruk PDF

Hans (Oubaas) en Kitty (Ounooi) Breytenbach het vyf kinders: Jan, Cloete, Breyten, Sebastiaan en die enigste dogter, Rachel. In 1953, toe die Breytenbach-familie na Grivelleas verhuis, was dit slegs die jongste drie kinders -Breyten (13), Sebastiaan (12) en Rachel (5) – wat saam met hulle ouers in die losieshuis gewoon het. Cloete en Jan het gereeld kom kuier.


Die Breytenbach Sentrum lyk vandag min of meer nog net soos die dae toe die Breytenbachs hier gewoon het. Die buitegeboue was toe slaapkamers vir die huiswerkers en waar die boekwinkel - The Booktraders - vandag is, was in die vyftigerjare benut as musiekkamers vir die Onderwyskollege. Breyten en Sebastiaan se slaapkamers was in die gebou agter die Breytenbach Sentrum. Hierdie tweede gebou was deel van die losieshuis.  In 1959 is die motorhuise aangebou en die agterste gebou is later as woonstelle ingerig. Nadat die huis aan die munisipaliteit verkoop is, verhuis Hans en Kitty Breytenbach na Onrus waar Kitty (in 1978) en Hans (in 1989) oorlede is.

 

Kamers van herinneringe

Afdruk PDF

In vele verse van Breyten Breytenbach word sy grootwordjare in die Grevilleas –huis in herinnering geroep. Seker een van die bekendste gedigte (wat ook in die Breytenbach Sentrum te sien is), is die volgende:


invert1ek sal sterf en na my vader gaan
Wellington toe met lang bene
blink in die lig
waar die kamers swaar en donker is
waar sterre soos seemeeue sit op die nok
en engele vir wurms spit in die tuin,
ek sal sterf en met min bagasie
in die pad val
die Wellingtonse berge oor
tussen die bome en die skemer deur
en na my vader gaan;

die son sal in die aarde klop
die wind se branders laat die voeë kraak
ons hoor die huurders
skuurloop bo ons kop,
ons sal dambord speel op die agterstoep
- ouvader kul -
en oor die radio
luister na die nag se nuus

vriende, medesterwendes,
moenie huiwer nie; nou hang die lewe
nog soos vlees om ons lywe
maar die dood beskaam nie;
ons kom en ons gaan
is soos die water uit die kraan so
soos klanke uit die mond
soos ons kom en ons gaan:
ons béne sal die vryheid kén -
kom saam
in my sterf in in my na my vader gaan
Wellington toe waar die engele
met wurms vet sterre uit die hemel hengel;
laat ons sterf en vergaan en vrolik wees:

mý vader het ‘n groot bôrdienghuis invert2

 

Breyten Breytenbach is ‘n invloedryke Afrikaanse digter en skilder-kunstenaar van internasionale formaat. Hy het reeds tydens sy leeftyd literêre en kultusstatus bereik. Breytenbach se talle digbundels tot op hede bevestig sy posisie as belangrikste digter sedert N.P. van Wyk Louw en D.J. Opperman. Hy het bekendheid verwerf met sy ruim verwysingswêreld, oorspronklike woordskepping en gebruik van die metafoor. Sy meertalige oeuvre is omvattend en sluit die volgende in: kortprosa, die roman, verhoogstukke, reis-en verblyfjoernale, politieke en kunsfilosofiese besinnings. Sy werk is vertaal in Nederlands, Frans, Engels en Duits. Hy het verskeie literêre toekennings verwerf, onder andere die CNA-prys (vier maal), die Rapport-prys, die Alan Paton-prys, die Helgaardt Steyn-prys en die Hertzogprys. Breyten is ook bekend dat hy steeds krities-denkend bly ten opsigte van politieke en gemeenkapskwessies. Hy skroom nie om sy opinie te gee as hy dit nodig ag nie. Daarom kan hy as denker en kunstenaar as die bewaker van die gemeenskap se gewete gesien word. Breytenbach verdeel sy tyd tussen Europa, Amerika en Suid-Afrika. Vir drie maande van die jaar is hy besoekende dosent aan die Universiteit van New York se Departement Literatuur. In Europa neem hy deel aan seminare oor die letterkunde in lande soos Holland, België en Frankryk en stal op ‘n gereelde basis sy skilderye uit in Duitsland. Hy woon ook in Spanje, waar hy tyd maak om te skryf, en is ook direkteur van die Goré-Instituut in Dakar. Breyten is ‘n gereelde besoeker aan Suid-Afrika en is betrokke by kultuurprojekte. Sy kontroversiële toneelstukke is opgevoer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees. Die drie musiekstukke Mondmusiek, Om te Breyten en Lady One word beskou as ‘n deurbraak op ‘n nuwe terrein van die veelsydige kunstenaar.

 

’n Huis vol mense, diere, vrugte en liefde

Afdruk PDF

Herinneringsbrief deur Rachel Breytenbach


invert1Ek het gebly in ’n baie groot ou huis – ’n boardinghuis. Ons deel was reg in die middel. Die voordeur was altyd oop, nooit gesluit nie. Met die houtgang tot binne in die eetsaal. En links daarvan na agter was die kombuis en die spens – die hart van die huis. My kamer was langsaan Ounooi en Oubaas s’n. Buite het die paddas gekwaak en die sterre geskyn. Na aandete en huisgodsdiens en die nuus en die verhaal, Soetmelksvlei, op die radio, was die nag myne. Soms het ek gaan stap na Kerkstraat en gaan windowshop. Die winkels was vir my altyd soveel mooier in die nag as in die dag. Selfs in die donkerste nag was ’n mens bewus van die pragtige berge daar buite. Groenberg, Sneeukop. Hulle beskerm die dorp. Die gelag en gepraat van die bruin Afrikaners wat heen en weer verby ons huis geloop het dorp toe. Ek was so vry. Eers nou besef ek hou vry ek grootgeword het. So totaal onafhanklik en ewig omring deur die liefde van my ma en my pa en diere – altyd diere.


Liewe ou Wagter, kruis tussen ’n skaaphond en ’n collie. Daar was hoenders agter, goudvisse in die gang. Budgies en vinkies voor op die stoep. Katte. Vir ’n rukkie totdat hulle my kleinboet se duiwe gevang het! En selfs vir ’n rukkie twee poue. Omdat hulle geskreeu en die bure gepla het, moes hulle toe gaan. Daar was ook altyd mense – die ‘boarders’. Daar was oom Vasie – hy was ’n oujongkêrel en het vir my die mooiste presente gegee. Van ’n looppop ‘walkie-talkie’ tot ’n horlosie en ’n pophuis. Mrs Rivers het agter in ’n woonstel gebly en het hoede gemaak. Die vyeboom, veral in die winter, was altyd oortrek van die hoede wat sy besig was om te maak en daar gehang het om droog te word. Ek was ook haar model. Dan die jong moeder met die tweeling dogtertjies wat altyd soet gaan slaap het as sy saans in die bioskoop gaan kaartjies verkoop het. Sy het altyd vir hulle twee boksies Smarties teruggebring.


Vir ’n ruk lank was daar ook mevrou Schoeman en haar jong seun. Sy het na haar man se dood besluit om te kom studeer aan die kollege en haarself as onderwyseres gekwalifiseer. Die seun was maar dommerig en sy het hom leer lees en spel – elke aand oor en oor. ’n Ou dame het gebly in die woonstel links van ons en het altyd vir my gesê ’n dogtertjie mag nie broeke dra nie! Die woonstel aan die regterkant was miss Visser s’n. Sy was ’n oujongnooi en baie puntenerig. Jare daarna toe ek getrou het en met my man in die kamer bokant haar kop beland het tydens ons honeymoon, het sy verwoed van onder af met ’n besemstok teen die plafon geslaan om ons stil te maak!


Die beste was mrs. Knox wat ook agter gebly het in ’n woonstel by die akkerboom. Sy het daar gebly met haar twee katte, Wooley en Peanuts. Sy en haar man het van Nieu-Seeland na Suid-Afrika gekom. Sy was ’n kunstenaar. Hulle was uitmekaar; hy het gebly in die Railway Hotel en sy by ons. Sy het ook aan die Black Sash behoort. Toe ek reeds ’n tiener was en my kamer agter was (wat eens die eetkamer was), het sy my laat in die aand genooi vir ’n bietjie sjerrie! Omdat dit so warm was, het ons laat gaan slaap.


Só was Wellington en ons boardinghuis – mense het altyd gekom en gegaan. Ek was nooit alleen nie. Dit was ’n huis van liefde. Dit was ’n tyd van lekker kos. Baie, baie vrugte – druiwe, appelkose, pruime en perskes by die dosyne. Dink net – die boer het tydens Februarie twee mandjies (wit en rooi) druiwe by die voordeur kom aflewer. Die Maleier het verbygekom met sy lorretjie groente twee keer per week. Daar was Fonteinstraat met die kafee (tant Sannie s’n) op die hoek. Die viswinkel en die slagter. Boonop het ons, ons eie groentetuin gehad met tamaties en aartappels en bone. En ’n heerlike sementdam agter waar ons kinders na hartelus kon swem. Wellington was ’n ware paradys om in groot te word, veral die losieshuis; groot en omring deur blomme, vrugte, groente, diere, kinders, mense en liefde.  invert2

 

verf

IMG_7793

IMG_7820

IMG_8047